Beweerde aardmane

Dié asteroïde se wentelbaan hou hom naby die Aarde, maar sy wentelbaan veskil van 'n maan s'n. Wanneer die wentelbaan uit die oogpunt van verskillende liggame ontleed word, lyk dit wel of die veronderstelde kwasisatelliet 'n stabieler posisie naby die Aarde het.
Die wentelbaan van 2020 CD3 om die Aarde. Die grys band is die Maan se wentelbaan.

Gerugte doen dikwels die ronde van beweerde aardmane benewens ons een Maan. Verskeie kandidate is al voorgestel, maar nie een is bevestig nie. Wetenskaplikes voer sedert die 19de eeu ernstige soektogte na nog mane uit, maar die moontlikheid het ook al 'n paar twyfelagtige spekulasies en selfs moontlike poetse tot gevolg gehad.[1]

Hoewel die Maan die Aarde se enigste natuurlike satelliet is, is daar 'n paar naby-aarde-voorwerpe (NAV'e) met wentelbane wat in resonansie met die Aarde is. Hulle is al "tweede mane" van die Aarde of "minimane" genoem.[2][3]

469219 Kamoʻoalewa, 'n asteroïde wat op 27 April 2016 ontdek is, is moontlik die stabielste kwasisatelliet van die Aarde.[4] Terwyl dit om die Son wentel, lyk dit of 469219 Kamoʻoalewa ook om die Aarde wentel. Dit is te ver om 'n ware satelliet van die Aarde te wees, maar dit is die beste en stabielste voorbeeld van 'n kwasisatelliet, 'n soort NAV. Hulle lyk of hulle om 'n ander punt as die Aarde self draai, soos die wentelbaan van die NAV 3753 Cruithne. Aardtrojane, soos 2010 TK7, is NAV'e wat om die Son wentel in dieselfde wentelbaan as die Aarde en lyk of hulle voor die Aarde uitbeweeg of dit volg.

Ander klein voorwerpe in 'n wentelbaan om die Son kan vir 'n kort rukkie in 'n wentelbaan om die Aarde gaan en tydelike natuurlike satelliete word. Teen 2020 was die enigste bevestigde gevalle 2006 RH120, in 'n wenttelbaan om die Aarde in 2006 en 2007, en 2020 CD3, in 'n aardse wentelbaan tussen 2018 en 2020.[5][6]

  1. Drye, Paul (24 Januarie 2009). "Earth's Other Moon". passingstrangeness.wordpress.com. Besoek op 23 Oktober 2011.
  2. Lloyd, Robin, More Moons Around Earth?, space.com, http://utstaging.space.com/scienceastronomy/solarsystem/second_moon_991029.html 
  3. Elizabeth Howell (28 Februarie 2020). "How scientists found Earth's new minimoon and why it won't stay here forever". Space.com (in Engels). Besoek op 23 November 2022.
  4. Agle, DC; Brown, Dwayne; Cantillo, Laurie (15 Junie 2016). "Small Asteroid Is Earth's Constant Companion". Nasa. Besoek op 15 Junie 2016.
  5. "MPEC 2020-D104: 2020 CD3: Temporarily Captured Object". Minor Planet Electronic Circular. Minor Planet Center. 25 Februarie 2020. Besoek op 25 Februarie 2020.
  6. de la Fuente Marcos, Carlos; de la Fuente Marcos, Raúl (7 April 2020). "On the orbital evolution of meteoroid 2020 CD3, a temporarily captured orbiter of the Earth–Moon system". Monthly Notices of the Royal Astronomical Society. 494 (1): 1089–1094. arXiv:2003.09220. Bibcode:2020MNRAS.494.1089D. doi:10.1093/mnras/staa809. S2CID 214605877.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search